DIE HEL EN DIE HEMEL 'N WERKLIKHEID!
  In die 18de eeu het die Bybel-uitlêer Bengel van die gelykenis van Lasarus en die ryk man opgemerk: 'n Verhaal wat 'n mens met ontsetting vervul!
Ja, want hier sien ons dat 'n mens wérklik verlore kan gaan, dat die hel 'n werklikheid is...
Dit sal nie help om die bestaan van die hel teen die liefde van God te probeer afspeel nie, want dis juis Jesus, die Liefdevolle, wat hier daarvan praat. Ook verval die argument dat ons hier maar net met 'n gelykenis te doen het. Want Christus het nooit Sy gelykenisse op valshede of fantasieë geba-seer nie, maar altyd op werklikhede. En die ontsettendste is nog om te hoor waarom die ryk man verlore gaan, nl. nie omdat hy ergerlike sondes bedryf het nie, maar omdat sy verhouding tot sy naaste verkeerd was.
Hy was 'n respektabele figuur en het seker 'n groot begrafnis gehad (dalk gereël deur sy vyf broers), maar dit was net die sigbare deuskant. In werklikheid was hy in die plek van Godver-latenheid, omdat hy Lasarus so verlate in sy poort laat lê het...
Maar hierdie gelykenis is ook so ontsettend mooi. Want hier hoor ons ook van iemand wat werklik gered is. En dit, iemand wat eintlik net 'n bondeltjie ellende was, van wie ons nie eens lees dat hy begrawe is nie. Maar ook dit was net die deuskant.
Aan die ander kant is hy as hoof-gas na die hemel gedra. Nog veel meer as die hel is ook die hemel 'n werklikheid! Die hemel is nie 'n plek in die gewone sin van die woord, sodat ons dit met ons vuurpyle sou kon bereik of met ons teleskope in die oog sou kon kry soos die Fransman, De Lalande, wou doen nie.
Maar ons kan sê dat die hemel soms in die Bybel in 'n oordragtelike sin feitlik sinoniem met God is (soos tekste soos Matt. 3:2, Mark. 1:15, Luk. 15:8 en Matt. 21:25 suggereer), en dat Sy Hemelvaart wil sê dat Christus Sy Goddelike troon bestyg het. Hiermee word natuurlik nie bedoel dat Hy nie ook vóór die tyd God was nie.
Maar nou spreek die Bybel beslis ook in 'n ander sin van die hemel, nl. in 'n lokale sin. Die hemel ís ook 'n plek, sy dit dan ander-dimensioneel as elke ander plekbegrip in ons denke. Die hemel is waar God troon en waar Christus vir ons intree en waarheen die Here Sy gelowiges neem, totdat Hy met Sy wederkoms saam met hulle op die nuwe aarde kom woon.
Hoe kom 'n mens daar? Nie deur iets goeds te presteer nie, maar alleen as jou verhouding tot jou groot Naaste, Jesus Christus, (en daarom ook met jou gewone naaste) reg is.
Omdat Hy vir ons die Lasarus buite die poort van God geword het, kan ons ook binne-in die poorte van God lewe. Omdat Hy vir ons "ter helle neergedaal" het, kan ons ook ten hemel opvaar!
- Uit: Deure na Geluk, Murray Janson, Daan Retief Uitgewers, 1979.

Indeks     Index